Waar’s die mark met die hart? Brief uit Kampala

Diep in Afrika kom Dave Pepler ’n rare honderas teë – én ontdek ’n versteekte mark.

Vanaand hang ’n geel maan oor Kampala. Die stad se laagste heuwels is omsoom met naderkruipende moeraswater en bedompige mis, want die Victoriameer laat jou nooit van haar teenwoordigheid vergeet nie. My losies is naby water en dit klink of die paddas in my kop sing. ’n Mosgroen pylstertmot tok-tok teen die muskietgaas. Ek gaan sleg slaap.

’n Mens kry twee soorte stede: Dié wat wérk, soos Zürich of Stuttgart, en dan dié wat uitsluitlik funksioneer uit chaos, soos Istanbul en Kampala – laasgenoemde is een van my gunstelinge: Vuil, stowwerig, vol reuke, moeg, en tog wérk alles op ’n manier.

Die Westerse moltrein word hier vervang deur die boda-boda, sulke klein motorfietse wat jou téén die verkeer en téén enige padreëls by jou bestemming kry.

Die restaurant word vervang met egte padkos: Derduisende tafels teen die randsteen wat enigiets denkbaar aanbied. Kampala het ’n hart. ’n Leeftyd reis ek al, en ek het geleer dat die vinnigste toegang na ’n stad se hart deur sy kosmarkte lê.

Ek onthou die Mercato Ittico in Napels, waar ek een oggend net voor dagbreek gestaan en kyk het hoe ’n beenoud Italiaanse weduwee haar skoene uittrek, haar swart rok aan die soom optel en ’n seekat uit ’n vlak sementdam pluk; die Rialto in Venesië, ook voor dagbreek, waar bebloede slagters grappa weggeslaan het terwyl ek en ’n vriend die kroeg uit ’n skemer hoek beskinder het; en die groentemark in Valdivia, teen die see, met stalletjies vol aartappels uit
die Andes – en die sade van die Mapuche-Indiane se heilige Araucaria-boom, een van die plante op aarde wat in sy natuurlike habitat die ergste bedreig word.

In 2001 het ek Uganda besoek met die opdrag om ’n internasionale span sosioloë te probeer help ná die uitsetting van Batwapigmeë uit die Bwindiondeurdringbare woud. Dié mense is eenvoudig aangesê om hulle geliefde woude te verlaat omdat dit tot Wêrelderfenisgebied verklaar is. Die voorspelbare gevolg was dat die meeste van hulle bedelaars geword het, in alkoholisme verval het en ’n patetiese pagbestaan probeer voer het, hulle oë dof van verlange.

Die pigmeë is ’n vreemde volkie, byna soos die Aborigine van Australië – op die oog af primitief, maar in der waarheid van die boeiendste volke op aarde. Hulle is waarlik geaard, ken die wildernis soos die palm van hulle hand en het die ekologiese voetspoor van ’n wilde dier.

Net buite die dorp Kisoro op pad na Bwindi het ons eensklaps op ’n groepie jagters afgekom, lang spiese in die hand en – tot my verbasing en intense genot – Basenji-jaghonde aan ’n tuisgemaakte leiband. Jare al lees ek van die mistieke Basenji, die vreemde jaghond van die Afrika-woude. Hulle is klein en fyn gebou met kort karamelbruin hare, wit sokkies, ’n krulstertjie en, vreemd genoeg, geen anaalkliere nie.

Maar wat hulle waarlik uniek maak, is dat hulle nie kan blaf nie. Wanneer hulle opgewonde word, begin hulle jodel. Juis hieroor bring die jagters klokkies aan ’n halsband aan sodat hulle die hondjies kan volg wanneer hulle spoor vat.
(Op pad na die jagplek word proppe van groen gras in die klokkie geprop om dit stil te hou.)

Toe die jagters ons sien, het hulle die bos in gevlug, maar ons tolk het dit reggekry om hulle weer uit te lok, want ek wou bittergraag die hondjies van nader beskou. Toe die pigmeë agterkom ek stel waarlik in hulle jagkultuur belang, het hulle skielik vriendelik en behulpsaam geraak. Ons het teen die pad gaan sit, die hondjies is effe onwillig
nader getrek, en die geselsery het begin.

Jagters bly maar ’n vreemde spesie, en soos ons hier oor kalibers en koeëlpunte gesels, so praat die woudjagters
van spiespunte, die beste hout vir die skag, en natuurlik oor die meriete van hulle honde. Ek was in die hemel, het foto’s en notas geneem en, die belangrikste van alles, probeer om die gees van die oomblik te onthou.

Toe sien ek die jagklokkies om die hondjies se nek: Brons en die grootte van ’n kruisblom, die rowwe hale van die smid se hamer en vyl nog duidelik sigbaar, en om die hond se nek vasgemaak met ’n repie vyebas.

“Wie maak die klokkies en waar kan ’n mens dit aanskaf?” het ek gevra.

“By die Sauriyakomark in Kampala, natuurlik,” was die antwoord, asof dit ’n plek is wat ek elke dag besoek.

Die klokkies van Bwindi het by my bly spook. Terug in Kampala was my heel eerste wens om na die “klokkiemark” toe te gaan. ’n Navraag by my hotel het geen leidrade opgelewer nie, en selfs my deeglike Duitse gidsboek was onbekend met die mark. Uit desperaatheid het ek ’n boda-boda-bestuurder nader gewink en gevra.

“Klim op!” was sy enigste antwoord. Ek het ’n paar kruise geslaan, gedink aan die Bybelvers
“wyl U ander seën” en om die dood vasgeklou. Ná ’n reis uit die hel het ons by ’n plankmuur gestop met ’n enkele smal deurgang. Aan die reuk van gerookte vis, fietse vol piesangtrosse en die teenwoordigheid van mense het ek dadelik geweet: “Ek is hier!”

Die volgende twee uur  het in een intense belewenis versmelt. Ek kén markte, maar Sauriyako was soos iets uit die Middeleeue. Soos ’n souk in Noord-Afrika was daar geen orde in die beplanning nie. Paadjies wat lyk asof rysmiere dit gemaak het, het na die hart van die mark gelei. Weerskante was daar mure van ware… muntskulpe, gedroogde
meervissies, bondels spiespunte, paksels lap van boombas, woudvrugte en toe, ná ’n lang gesoek, die klokkies!

Ek het een gekoop, vandag nog een van my kosbaarste besittings, naas my Tibettaanse bedelkommetjie.

’n Maand gelede het ek, terwyl ek op pad was na die Soedan, weer in Kampala ’n draai gemaak. Ek het twee dae gehad om visums te kry en voorraad aan te koop. Skielik het ek die Sauriyakomark onthou en weer ’n bodaboda gehaal.

Tot my verwarring het ons voor ’n afskuwelike neo-Chinese gebou gestop. Dit kon tog nie die fabelagtige Sauriyako wees nie?

’n Jaar gelede is die historiese mark eenvoudig platgestoot en dié siellose monstruositeit in sy plek gebou.

Teen my wil het ek die gebou binnegestap en vergeefs gesoek na die klokkiestalletjies. Toe ek later uitstap, sien ek ’n paar verkopers met hulle uitstallings, vasgepen tussen die teerpad en ’n rioolsloot.

Net één van hulle het nog klokkies aangebied.

Só verloop dit oral in Afrika waar nog met tradisie omgegaan word: Die bootbouers van Dar es Salaam verplaas van hulle tradisionele strand na ’n betonblad; die beeldhouers van Morogoro, eens in klein dorpies, nou in ’n rondawel by die busstasie, en dan Sauriyako, haar lewende hart uitgeruk.

Ek weet, ek weet, die lewe moet voort, teen ’n nuwe pas. Maar die trope was nog altyd beroemd vir malse biodiversiteit: aan diere, mense en kulture.

Die groot gelykmaking het begin.