Tsoenami Redux

In hierdie artikel besin Dave Pepler oor die waardigheid van klein en groot lewens na die magtige tsoenami van 26 Desember 2004. Dit het in die 7-13 Januarie 2005-uitgawe van Mail and Guardian verskyn.

Joep Maree vertel my dat ‘n paar minute voor die 1968 aarbewing in Tulbagh, al die honde van Ida’s Valley in Stellenbosch skielik aan’t blaf gegaan het.  Op 4 Februarie 1975 het die owerhede van die Sjinese stad Haicheng, die stad ontruim nadat diere vreemd begin optree het.  ‘n Paar uur later het ‘n aardbewing van 7.3 grootheid die stad totaal verwoes en daar is gereken dat meer as 90,000 mense só gered is.  Diere wéét.

Die grootste deel van die wetenskap van ekologie is bemoeid met pogings om die volheid van die lewe op aarde te verklaar. Vrae soos waarom sekere spesies in hoë digthede op sekere plekke voorkom en weer in laer digthede elders.  Watter faktore beinvloed hierdie getalle?  Waarom is sekere spesies volop en ander weer skaars?  Om slegs een van hiedie vrae te beantwoord sou mens iets moet weet van die fisio-chemiese toestande (grondvrugbaarheid), die vlakke van beskikbare hulpbronne (kos, skuiling en kompetisie), die organisme se lewenssiklus (lewe en dood) en die invloede van mededingers, predators (siektes) en parasiete.  En, ook hoe hierdie faktore die bevolking se aanwas, dood en migrasie beïnvloed.  Alle dierebevolkings van die aarde word blootgestel aan hierdie faktore en die mens is maar een van hierdie diere.

Kyk mens verder na die populasie-piramide van menslike bevolkings, kan jy interessante inligting daarin lees.  Groot gebeurtenisse soos die builepes van die middeleeue, die industriëele revolusie, die twee wêreld-oorloë en die ontdekking van anti-biotika maak merkbare verskille aan die profiel van hierdie piramide; mens vermoed dat die HIV/VIGS die volgende groot “duik” in die bevolking sal toon.

Ek staan verstom oor die wêreld se reaksie op die onlangse tsoenami-ramp in Indiese Oseaan-bekken.  Vir weke aaneen sien ons beelde van besorgde tannies in Birmingham wat teddiebere hekel vir die vloedwesies, die Engelse prinse help pakkies opmaak; Skandinawië is in rou gedompel.  Miljarde dollars word versamel, vragvliegtuie word gekommandeer en die beroepstroosters van die weste stap met linnepakke deur die verwoesting.  Waarom lok hierdie ramp soveel reaksie uit?

John Pilger het dit dalk reg – Die slagoffers van groot natuurrampe is waardig, terwyl die slagoffers van mensgemaakte imperiale rampe onwaardig is.  Sou mens die slagoffers van die oorloë in die Soedan, Irak en Afganistan saamtel, dan oorskadu dit die onlangse natuurramp absoluut.

Waarom het soveel mense in hierdie seegolf gesterf.  Dit was blote toeval dat hierdie seismiese gebeurtenis juis dáár, op daardie tydstip voorgekom het.  Net soos aardbewings in Los Angeles, was hierdie een onontwykbaar en ook voorspelbaar.  Ons weet immers al jare waar tektoniese aktiwiteite gaan gebeur.  Maar hierdie keer het die aarde se dobbelstene sleg geval vir die mens.  Die waters het juis die plekke getref waar hoë digthede van vakansiegangers (ryk en westers) en die inheemse bevolking (arm) saamleef.  Die redes vir die digthede van die inheemse bevolking is kompleks, maar in die geval van Indonesië en veral die kusgebiede van Srilanka en Indië het dit te make met ‘n abnormale demografiese verdigting op plekke waar bitter arm mense nog ‘n bestaan kan maak.  Die agterland van hierdie gebiede is verwoes deur die oorontginning van woude en ‘n gebrek aan grondvrugbaarheid en die warm tropiese oseane bied nou ‘n tydelike heenkome todat dié marine hulpbronne ook uitgeput word.

Ek staan nederig voor die kragte van die natuur en voel innige deernis met die slagoffers van hierdie ramp.  Maar, ek probeer ook hard om ‘n geestelike balans te vorm oor al die miljoene klein natuurrampe wat elke dag hier by ons afspeel.  Die dood van ‘n muskiet, ‘n olifant en die Pous is gelyk op die kosmiese skaal.  En dis aan hierdie skaal wat ons ons bestaan, geluk, verlies en tragedies moet meet.