Ouma Lilly se Laaie

My Ouma Lilly het haar lewe lank langs haar susters, Tante Ella en Tante Susie, en regoor haar skoonsuster, Tante Magie gewoon. Al drie het spense in die huis gehad en dié kamers onthou ek meer helder as al die ander vertrekke van my kinderjare. Nie net omdat daar hemelse eetgoed gebêre was nie, maar ook omdat daar laaie vol opgegaarde en herwinde goeters gestoor was (na tante Ella se dood in 1978 het ons Marmite-potjies dáár gekry, met “Marmalade 1934” in blou merkink, op kleefpleister geskryf). Dié laaie was propvol houertjies met bolletjies tou, netjies gevoude kardoessakke, kraanwasters, kopspykertjies, skroewe, kurkproppe, snuifblikkies (Tant Susie het Singletons gesnuif), stompies van kerse, meelsakkies, garingtolletjies, groentesaad, leë Marmite en Vicks glaspotjies, Ball Jar seëlringe en olielamppitte. Hier het Tant Susie haar mandjiesgoed gehou, en die wiggies van peerhout waarmee sy die nat rottang gepen het wanneer sy Oom Fanie se stinkhoutstoele gemat het. Al hierdie dinge onthou ek nog, maar nie meer met helderheid nie; dit skuiwe na die rant van vergeet.

Toe ek jonk was, was herwinning en hergebruik nie mode, of ‘n gewetenssaak nie, maar eenvoudige en praktiese maniere van geld spaar en dinge gedoen kry, want anders was dit “sien kom klaar”. Dit was nie ‘n skande om gelapte klere te dra nie, skoene is oor en oor versool, en die dorp se blikslaers kon meeste ystergoed regmaak. Tuine was groot en verbasend divers. Daar was gewoonlik ‘n moerbeiboom in die hoenderhokke want dit het beide skadu en volop vrugte aan die skrophenne gebied. ‘n Groot plattelandse tuin het lemoene, nartjies, suurlemoene, siters, kwepers, mispels, koejawels en nog veel meer gehad – oorvloed deur die jaar. Meeste van hierdie produkte is gedroog, ingelệ of versap, en het dan in die spense beland. Donker spense met valletjies aan die rakrante en lig wat skuins inval, soos in ‘n Vermeer skildery.

Ek wil my indink dat ons “ekologiese voetspoor” toe heelwat kleiner was as vandag en dat dit nie noodwendig beter tye was om in te leef nie, maar dat ons daaglikse bestaan wel ‘n eenvoudige grasie gehad het. Daar is geen manier dat ons volledig kan terugkeer na hierdie manier van dinge doen nie, maar ek wil tog voorstel dat ons ou tegnieke en gewoontes weer op die proef stel, nagaan en aanpas by ons moderne lewensstyl. Nie dat die toepassing hiervan ‘n reuse verskil aan die aarde se welstand sal maak nie, maar kom ons doen dit vir onsself. Hierdie klein rituele is die begin van ekologiese wysheid.

Hier volg ‘n aantal gepasde en soms outydse herwinnings- en hergebruik-wenke:

▪Maak jou eie papiergom: meng drie koppies water met een koppie meel en maak ‘n gladde pap. Verhit tot kookpunt, en prut ‘n paar minute. Bệre in koelkas.
▪ Kaggel-as: ‘n ligte toedienings van die as voorsien ‘n ryk bron van kalium in tuine, en ‘n sirkel as om plante gesprinkel sal slakke weghou, en die growwe kole sal ‘n modderpaadjie in die tuin stabiliseer
▪ Tuisgemaakte koperpolitoer: meng gelyke hoeveelhede sout en asyn in warm water
▪ Mini kweerkhuise: sny plastiek koeldrankbottels in twee en plaas oor tenger plantjies. Die boonste gedeeltes van sulke bottles kan ook as tregters gebruik word
▪ Flenters en lappiesgoed: maak ‘n klossiemat van lappies
▪ Versnipper tuinreste: maak ‘n grondkombers van snoeisels
▪ Seepreste: gaar op, en maak ‘n algemene opwasmiddel deur die stukkies in warm water op te skud
▪ Nylonkouse: stop in ‘n ou warmsak en gebruk as knielkussing in die tuin
▪ Span saam met bure en vriende om duur toerusing aan te koop, te poel en te deel
▪Belệ in herlaaibare batterye
▪ Gloeilampe: vervang filamentlampe met energie-sparende neon-lampe
▪ Maak reuse sypaadjiekryte deur toiletrolkerne vol gekleurde gips te giet

My suster woon in Kanton Turgau in Switserland, net suid van die Bodensee. Tydens een van my besoeke aan Kreutzlingen merk ek ‘n nuwe munisipale instelling. ‘n Netjiese houer langs die straat wys grafies hoe jy ‘n plasieksakkie van ‘n rol moet afskeur, jou hond se drol moet toevat, vasknoop en dan deponeer. Ek skeur ‘n paar sakkies af om my vriende in Suid Afrika te wys. Net voor ek terugreis, neem my suster my na daardie droomstad, St Gallen, waar ek die middeleeuse biblioteek wou besoek. Op pad terug na die stasie onthou sy dat een van die beroemdste kaaswinkels in Switserland net om die draai is. Ons stap in, en koop, net vir die proe, flentertjies van die hemelse kase. Die Peplers lyk ten beste van tye na karretjie-mense, en die dag was geen uitsondering nie. Nooit sal ek die gesig van die Kaas Nazi vergeet, toe ek ewe onskuldig my hondedrolsakkie tussen die ander in my buidel uithaal, en oor die toonbank hou nie. Dit was byna twintig jaar gelede. Herwin ek nog? Ja beslis!