Immergroen, immer anders

Lewenswoede, noem hy dit: die gulsigheid om meer te doen, want hy kán en hy wíl. Op 65 is daar niks wat Dave Pepler gaan laat afskaal nie. Inteendeel.

As jy by Dave Pepler kuier, is dit met koffie en beskuit op die sementtrappe voor sy huis wat eers ’n skuur was, langs Idasvallei in Stellenbosch.

As jy by Dave Pepler kuier, word dit ’n reis om die wêreld, deur woude en woestyne, van die kleinste geitjie tot boomkolosse, deur geskiedenis en literatuur en menslike geite. Jy verken. Jy leer. Jy leer van leef. En van doodgaan.

Laas week sit hy langs ’n berggorilla in Rwanda. Plat op die grond, twee ou siele tussen liggroen blare. “So na aan die hemel as ’n ekoloog kan kom,” skryf hy. “I kid you not: vandag was my hart so groot soos ’n okkerneut.”

Halfvyf elke Woensdagmiddag hoor jy sy droë bry op Tjailatyd (RSG) as hy en Amore Bekker oor groen dinge besin.
Wee’jy hoekom die luisteraars so gek is na Dave? sê sy laas week vir my oor die telefoon. Want hy waag dit om homself te wees.

As Dave sy stoeptrappe klim, is dit twee-twee, sien jy. Hy’t ’n lewenswoede, noem hy dit. ’n Gulsigheid. “Dat ek dinge
moet doen. Mense sê jy’s oor twee weke 65, skaal af. Maar ek is besig om méér te doen. Want ek kan. En ek wíl.”

Hy kom uit Robertson se “Boere-adel”, vertel ’n skoolmaat. Oupa Boy het Dave – “vet seun, alleenkind”– smiddae met die kruiwa die dorp uitgestoot om die veld te verken. Ouma Lilly (skryf hy op LitNet) het hom op vyf geleer hoe Afrikaans kan sing toe sy ’n sampioen met haar kerkskoen uitgeskop, sy hand gedruk en uitgeroep het: “Kampernoelie! Duiwelsbrood!”

Sy ma, Maggie Pepler, was “die moeder van die malvapoeding”. Dié’t sy jare terug as tydelike sjef by Boschendal bedink. Sy’s in 2013 op 87 oorlede.

“En delightfully so. Ek het gesorg dat sy haar laaste jare sorgeloos lewe. Die pos weggevat, die bank, die telefoon, sy’t net vryheid gehad.”

Die aand van haar dood lê sy in die hospitaal. Oud en broos. Hulle raak mos soos ’n voëltjie in ’n nes, sê hy.

“En daar steek ’n storm op, skrikwekkend, takke teen die venster, Shakespeariaans. Ek vra vir ’n privaat kamer en ek
gaan haal al die kerse wat ek kan kry en ek sit die ligte af. Ek gaan met my flits uit en loop steel roosblare en gooi dit op haar bed. Maak die vensters oop dat die wind kan inwaai. En ek sit daar en ek hou haar hand vas. En toe, net voor dagbreek, kom sit ’n lyster by die venster. En toe hy sing, toe sterf sy.”

Agterna het mense gesê dis sy geil verbeelding, maar dit was nie, skud hy kop.

“Toe hy sing, toe sterf sy. Perfek.”

Hy dink deesdae so baie aan ’n aanhaling uit Thomas Hardy se Jude the Obscure: Leer my van die dood sodat ek kan lewe.

As sy wêreld in duie stort, as sy ma sterf, as hy die duiwel in raak, dan koop hy ’n pakkie tien en rook dit op. En dan gaan hy weer aan.

Dis vroegoggend, hier op sy stoep. Baba, sy groot swart hond, lê en betrag die wêreld so uit die hoogte. ’n Paar kolganse kry klaend koers bome toe.

“Die ggg-klank is die mannetjies, hoor jy, en die aaa, die wyfies. Kom,” wip hy op, trek my saam na ’n struik in volle blom. “Ruik net die cestrum, soet, mals. Jean Cocteau het gepraat van a young man with a voice like cheap scent…”

“Dis seker nou bietjie uit die mode,” vat hy ’n nuwe spoor, “maar ek raak by die dág liewer vir Afrikaans, en vir Afrikaansheid.”

’n Ruk terug moes hy die tabakboere van Mbombela oortuig van ’n nuwe biodiversiteit-moniteringstelsel. “Maar hulle kry nie vát daaraan nie. Ek dag toe: Kom ek werk deur die vroue, kom ons hou ’n braai by die boeresaal. Weet jy, ek staan op daai verhoog en ek gaan letterlik aan die huil, want dis my mense. My ménse.

“Jy moet mos uit die stad kom om ons mense te belewe, want daar’s hulle nog geaard. Ge-aard, grond, aarde. Ek kom dit ál meer agter: jou geáárdheid bepaal soveel.”

Hy lag, sy bokbaardjie biggel. “Jan- Boland Coetzee het mos so ’n rugbyding gehad met sy plaaswerkers lank voor die
end van apartheid. Nou sit Jan-en-sy-span by die kelder en hulle drink sy wyn en hulle besluit hoe hul rugbytruie gaan lyk. Een sê swart, want hulle wil nou wegkom van groen.

“Maar Japie die tuinman, hy lewe nou nog, steek sy hand op en hy sê nee meneer, ek dink ons truie moet groen wees.
Hoekom Japie? Want groen is ’n bef*kte kleur!”

Ons lag. Dieselfde geaardheid, Japie en Dave. Groen-bedinges.

Vandat hy vanjaar se beskermheer is van die WAT se Borg ’n Woord-projek, dink hy ook knaend aan mooi woorde.
“Soos: wetenskap. Science sê nie vir jou dit wat ons wéét nie.”

Vir Dave is bewaring meer as wetenskap. In sy lang loopbaan het hy geleer: Die “weet” in bewaring is ’n “komplekse,
multidissiplinêre bestuurstelsel wat bowenal oor mense gaan. Wat jy ook al doen, raak mense aan.”

Deesdae, as toergids vir Live the Journey neem hy klein groepies ekotoeriste na buitengewone plekke – Ysland, Mongolië, Rwanda.

“In Rwanda, sonder uitsondering, sien ek groot, boerse mans met trane in hul oë as hulle voor die berggorillas staan.
Vir die eerste keer in hul lewe wéét hulle hoe broos die aarde is, hoe ragfyn elke lewende wese ingevleg is met sy ganse omgewing.”

Dis eintlik ’n skande dat hulle hom hiervoor betaal, grinnik hy. “Hulle besef nie dat ek vir myself toer en nie vir hulle
nie. Want dis vir my die beste dinktyd, weggesny van alles.”

Laas jaar in Casablanca, moerig oor hulle die vlug verpas het, gaan sit hy in die plaaslike vertreksaal tussen Marokkane in djellabas. Langsaan sit ’n Touareg, twee vroue en ’n blinde meisie. “Sulke mélkoë. Vyftien. Kínd. Die man maak ’n doek oop met twee vloerbrode en ’n gekookte hoender, die kruie sit nog so. En met iets tussen liefde en toewyding begin die twee vroue die kind voer. Nou sit ek só ver van tjank af,” wys hy twee vingers teen mekaar.

En hy dink: In sy sak is ’n botteltjie gedistilleerde lemoenbloeisels waarvoor hy ’n fortuin betaal het. Sy sal dit kan
rúik.

Hy vra die kelner om die botteltjie te gaan aflewer “want netnou kap daai Touareg hierdie infidel met ’n byl!”

“Nou voel ek selfvoldaan, jinne ek’s ’n goeie ou, en ek steek nog ’n sigaret aan. Toe val daar ’n skadu oor my tafel. Sonder ’n woord sit die Touareg die helfte van die brood en hoender voor my neer en stap weg.

“Sulke dinge, dink ek, dís die vesels wat ons lewe aan die gang hou. Die lewe het niks te doen met groot goed nie. Nie
damme en Walmart en spoeltoilette vir almal nie.”

Ná ’n leeftyd se klasgee op Stellenbosch begin Dave volgende jaar met ’n nuwe projek – die Academy for Environmental Leadership. Als het op ’n toer in Uganda begin toe sy skoolmaat Fef le Roux, advokaat en destydse voorsitter van die Curro-skoolgroep, vir Dave van sy droom vertel het: ’n gap-jaar-akademie.

“Begeesterd het ek 12 dae later ’n kurrikulum geskryf gehad. Dit gaan oor die natuur, leierskap, navorsing, lewensvaardighede.”

Om kinders te aard.

Hulle dink groot: virtuele ateljees waar Nobelpryswenners en wêreldkenners kan klas gee, interaktief, Dave wat met ’n satellietfoon by die geladabobbejane in Ethiopië of ’n gletser in Ysland staan en sê, klas, kyk hiérna…

Die eerste groep studente begin volgende jaar. Die kampus is naby Upington, teen ’n rooi duin langs die Oranjerivier.
In ’n laboratorium sal studente kan deel hê aan gestruktureerde navorsing, veral oor water.

In studieklasse destyds op Cambridge het hy geleer: hier’s jou kans om kreatief verkeerd te wees, niemand gaan vir jou lag nie. Dis wat hy by Upington wil doen. Beloon ’n student vir die argument, nie noodwendig die antwoord nie.

“Dalk is my een redding dat ek nog nooit klein foute gemaak het nie. My foute is ef-ops. Maar jínne, liewer waagmoed as ’n litanie van klein foutjies. Waar jy dieselfde bleddie ding oor en oor doen. Hier kiep-kiep.”

Soos Hennie Aucamp (“een van twéé vriende in my lewe”), lank terug in ’n New Yorkse skryfskool geleer het: “connections, connections, the more you read, the more connections you can make”, só kom Dave Pepler nou in sy
middel-sestigs daarby uit.

Verbande tussen dinge. “Nóú kom hulle bymekaar, nou, when I’m sixty four. Nou begin landskappe met my praat, die gees van die plek. Genus locum. Om vergelykend te lewe.”

Ja, Dave sal in Rwanda se bosse staan en dit in verband bring met iets wat hy in Madagaskar gesien het, vertel Jurgens Schoeman van Live the Journey. “Hy sien altyd die groter konteks. En hy doen dit so humoristies, sy reismaats lag hulle slap. Kennis en kurkdroë humor – uniek.”

Dit raak laat hier op sy stoep. Die oggend verloor stadig sy varsheid.

Wag eers, sê hy, vroetel ’n sakkie oop. Rúik. Tempelwierook uit Ethiopië. Hulle brand dit tydens koffie-seremonies. R5 ’n kilogram vir ’n landskap in jou neus.

Anderdag op ’n vliegtuig lees hy weer die Zen-aanhaling: As jy jou kudde wil beheer, gee vir hulle groot weikampe.

“En daar slaan dit my oor die kop, uiteindelik, want dáár lê die ding: om waarlik beheer oor jouself te hê, moet
jou siel in groot kampe bly, moet jy wyd wei.”