Die spoor wat jy laat

Grondpaaie, kameeldorings en karretjiemense…Dave Pepler gee wenke sodat ons dié “padkultuur” nog jare kan geniet.

Ek ken ’n hazenjagter as ek hom sien. Of ’n bullenbyter, soos François Le Vaillant Suider-Afrika se primitiewe en vroegste honderasse beskryf het.

Ek het hom sien staan agterop die donkiekarretjie; kromrug, rotstert, klein koppie met die platgetrekte ore – die oë skerp en wakker.

Die drywer was ’n “oempie”: grys stoppelbaard, ’n verslete koordfluweelbaadjie teen die winterwind, dooie pyp in die hoek van sy mond. Ek het hom ingewag by ’n stopplek onder ’n kameeldoring en begin uitvra oor sy reis, donkies en die hond. Is dit ’n jaghond? Nee, nee, dié hond pas hom net op. Ná die tweede sopie soetwyn is die hond, ene Jopie, opgehemel as die beste haasjagter tussen Tses en Gibeon.

Daardie dae het ek die rooi berghaas intens bestudeer en die oempie begin uitvra oor een van ons geheimsinnigste nagdiere. Hy het hulle geken, nie as berghaas of klipkonyn nie, maar as pishaas.

“Pishaas?” Ja, kom die antwoord, as jy hom kook, ruik dit net soos ’n merrie se urine.

“En hoe ruik dit?” Sy kop het geruk van verontwaardiging. “Weet meneer nie hoe ruik die pis van ’n merrie nie?” Ek moes bely.

Ek het lank bly sit nadat hy weer koers gekry het en besef dat ondervindings soos dié net moontlik is in plekke met ’n padkultuur – plekke soos Namibië, waar die paaie die landskap bepaal, soos die verdwynpunt in ’n ets van Escher. Paaie met die breedste rand op aarde, paaie wat deur plekke, kulture en deur biodiversiteit loop.

Soos met jou tuin, jou kinders en jou lewensmaat het ’n mens verantwoordelikhede, nie net met die eie nie, maar ook met die omgewing wat jou identiteit en wese bepaal.

Ons betaal belasting en tolgeld en gebruik dus paaie as ons goeie reg, maar ek dink ons moet ook paaie begin sien as nasionale en persoonlike bates.

Vir my gaan dit om daardie wonderbaarlike vryheid van gees wat ontstaan as jy kyk na ’n reguit pad wat die horison raak, en wind oor die dooie wintergras. Namibië se lig, so helder soos ’n vonk, dwing die beelde op jou af, soos die
skilder Adriaan van Zyl altyd gesê het.

Hoe koester ’n mens iets só kosbaar? Hier volg ’n aantal wenke oor padgedrag – riglyne vir die volhoubaarheid van die lewe om ons paaie.

Oor nood: ’n Eerste raakvlak met die wêreld buite jou motorvenster is die stopplek langs die pad. Ouers met jong
kinders ken die sambreeltjie met die betonbankies alte goed, veral wanneer ’n benoude kind begin skop aan jou sitplek. Dis net goeie maniere om ’n gaatjie te krap – weg van die tafel – en dit weer toe te maak. Wie weet, met die terugreis moet jy dalk weer hier stilhou.

Oor gekke en dwase: Die kameeldoring (Acacia erioloba) en die witgat (Boscia albitrunca) is na my mening dié
twee inheemse Namibiese bome wat uittroon bo die res. Al twee is “bome van die lewe”, uniek en statig. Dit gaan
my verstand te bowe hoe ’n mens sulke bome langs ons paaie kan bekrap of beskadig. Dis immers die tuiste van
versamel- en koringvoëls, ’n koelte teen die middag en bowenal ’n hemelse struktuur. Staan eerbiedig in sy skadu.

Oor bierbottels en ander rommel: Dis nou al jare dat ek ’n rommelsak aan die kopstut van my motor hang. Elke keer as ek gaan inkopies doen, maak ek die sak leeg op pad na die winkels – twee vlieë met een klap! Ongelukkig is Namibië se paaie belyn met leë bierbottels en flenters glas; ’n bewusmaking hiervan sal baie help. Indien bierglas herwin sou word in Namibië, gaan iemand gou ryk word.

Oor braaivleis: Net soos Suid-Afrika is Namibië ’n braaivleisland en ek wil glo dat as jy díe lande bekyk op Google
op ’n Sondag, jy net rook sal sien! Juis daarom kry die veldbome maar swaar naby stilhouplekke. Oral sien jy die letsels waar dooie hout afgebreek is. ’n Swetterjoel goggas vind ’n tuiste in dié nis. Ry ’n sakkie hout saam waarvan jy die oorsprong weet (beslis nie kameeldoring nie) of koop houtskool wat gemaak is uit swarthaak wat as volhoubaar gesertifiseer is. Namibië is een van die voorste Afrika-lande as dit kom by houtskool wat deur die Forest Stewardship Council (FSC) gesertifiseer is.

Oor vuurmaak: Van braaivleis gepraat, maak tog seker dat jy veilig vuurmaak, veral as die wind waai, en dat die kole behoorlik geblus is daarna. (Het jy te veel bier gedrink? Nou ja…) Brande rig elke jaar groot skade aan in Namibië en kan weke woed.

Oor respek: Donkiekarre en karretjiemense is nog ’n algemene gesig in Namibië. ’n Eenvoudige en eerbiedvolle versoek om foto’s te neem of saam te ry is ’n behoorlike en bowenal beskaafde manier om met dié mense om te gaan. Maak jou hart oop en jy sal verbaas wees oor wat jy ontvang. Dieselfde geld vir die spannetjie wat velletjies en karosse verkoop.

Oor aandenkings: ’n Onrusbarende verskynsel, veral noord van Windhoek, is die ontploffing van houtsneewerk.
Maak asseblief seker of jou aankoop uit ’n volhoubare bron kom. Veral as dit kom by groter stukke raak ’n mens bekommerd oor die ou reuse van die veld.

Oor voertuigspore: Daar is plekke op die grintvlaktes noord van Gobabeb waar die voertuigspore wat prospekteerders meer as 120 jaar gelede in die grond gemaak het, steeds lê. Nader aan die grootpad verdig hierdie spore tot ’n spinnerak oor die landskap. Die Namib is een van die oudste woestyne op aarde, en daarby een van die delikaatstes. Dink, en dink weer voordat jy ’n nuwe spoor ry. Nadat alle lewe op aarde reeds uitgesterf het, sal jou spoor nog sigbaar wees.

Oor grondpaaie en spoed: Daar is ’n regstreekse verband tussen spoed en die klipmissiele wat die motor boontoe
gooi. Jy kan mos ’n motor sien kom op ’n stofpad. Verminder spoed – dis net goeie maniere. Soos die inheemse mense van Australië, wat die ganse land in hulle bekende liedjies besing om te sorg dat die skepping behoue bly, bepaal Namibië se paaie die ganse landskap. Maar bowenal verbind paaie ons geestelike, kulturele en omgewingskern met mekaar. Nét daarom verdien die paaie ons sorg en respek.