Die Laaste Gramadoelas

Elke mens het ’n plek wat die hartsnare roer soos niks anders nie. Soms is dit die onwaarskynlikste van plekke. Dave Pepler vertel van sy gramadoelas…

Die motor is ’n kokon om my. Die kinders slaap; ek alléén sien die donker pad, die ligte wat nou en dan ’n rooi oog
tref. Daar is musiek, padmusiek. Vivaldi voor sonop – Andreas Scholl sing Ps. 127: Vanum est vobis ante lucem surgere: surgite postquam sederitis, qui manducatis panem doloris. Cum dederit dilectissuis somnum… (“Vergeefs staan julle vroeg op en bly laat wakker, julle wat die brood van julle arbeid eet – want vir Sy geliefdes gee Hy dit in hulle slaap.”) Later is dit Bob Dylan, Stevie Ray Vaughan, Diana Krall, dalk Steely Dan. Dagbreek kom met die Matsikamma regs teen my ruit, maar ek hou deur, noord.

Ek ry Gamsberg toe.

Wanneer jy die Gariep oorsteek, gebeur iets met die lig. Ek onthou my eerste besoek aan Utah, die groot bord teen
die pad wat sê “Welcome to big sky country”. Só is dit ook met Suid-Namibië. Die lang klim na Grünau dwing jou oë opwaarts, weg van die donker pad wat omsoom is met die geelste gras – en skielik voel dit asof jy vlieg.

Geen boom, geen struik breek die geel nie en alles om jou is die ene abstraksie.

By Rehoboth gooi ek vir die laaste keer brandstof in. Ek eet ’n olierige geroosterde toebroodjie en drink ’n koppie koffie. Hier begin die grondpad.

Ek mik noordwes, kortpad na Isabis. Ek ken al die afdraaie soos die palm van my hand, want langer as vyf en twintig jaar al ry ek byna jaarliks dié pad. Dan, knap voor Isabis, sien ek die eerste keer my berge: Links is Groot-Gamsberg, die kimlyn so skerp soos ’n lem teen die bleekblou, regs Klein-Gamsberg, effe hoërmet sy perfek simmetriese kegel.

Iemand wat verby hou Walvisbaai toe, kan nooit weet wat aan Gamsberg se voet lê, wie daar bly nie. Jy ry ’n amfiteater binne, met die tafelberge wes en bonkige hematiet-rooi pieke na die suide toe. Die pad raak ál steiler, ál
slegter; dis meestal tweede rat. Maar wat ’n landskap! Hier bepaal die witgatboom elke leegte, elke rant.

’n Spleet in die mure van rots word sigbaar, en vyftig, sestig kilometer agter dit lê die witpienk sand van die Namib.
Weenen se eerste hek, Weenen se laaikraal, die windpomp wat Calie en sy pa gebou het, af en af teen die hange, deur die plaasdam tot by die werfhek – ’n swaar, geroeste naamplaat: “Weenen, NO 193, C van Heerden”. Ek is tuis.

Die werfhonde, Voete (met net drie); Dowwe Dolla, die dowe foksie; en ’n nuweling, ’n Deense hond, storm uit, slobber aan my hande. Roos en Calie en Faan staan nader. Ons maak koffie en gesels ou stories. Maar ek is onrustig en moet, soos altyd, eers gaan stap, waterval toe. Met ’n verkyker en ’n lemoen in my rugsak stap ek by die dipgat verby, die klipmuur van Weenen se eerste dam, op pad na my sitklip.

Die landskap voor my is die leegste, die mees verlate, die mees gestroopte wat ek ken. Suid lê Namibgrens, wes
Mount Barry en Swartkrans. En tussenin – niks – die laaste gramadoelas.

Weenen is deurtrek van stories. Ry saam met Calie na die poste Diepputs, Nouwatertjie, Hoek, Pompe, en elke knoets in die landskap is gelaai met geskiedenis. Calie is hier gebore en het die ganse landskap te perd leer ken. Hier het ’n stampboor vasgeval, daar’s ’n witgatboom waar ’n tier (luiperd) ’n kalf opgehang het, hier’s die aalwyn wat na ’n klipspringer lyk – klein storietjies, maar elkeen met ’n geskiedkundige en folkloristiese pit.

Vyf en twintig jaar al luister ek na Calie, verlustig my aan sy ou Afrikaans. Dit gaan nie soseer oor wát hy sê nie, maar oor die meesterlike trant, die konteks, die sin vir plasing.

Wat my boei van dié landskap, is dat dit ’n oorgangswêreld is. Bo alles troon die berge, ryk aan gras en ekologiese nis, dan die bosse en doringbome, dan die skurwe gramadoelas wat uiteindelik uitloop op die meedoënlose sand van die Namib. Oorgange – of ekotone – is van die rykste habitats op aarde, want hulle staan wydsbeen oor biome. Organismes van al twee meng hier en maak dit besonder ryk aan lewe.

Daar is geen beter manier om dié verruklike rykdom te verken as om fontein toe te ry nie, die enigste permanente waterbron in honderde vierkante kilometers. Daar is net één pad slegter as die pad soontoe en dit is die Pienaarspas in die Karoo- nasionale park. Van die plaashuis af na die bolope van die Gaubrivier val die landskap binne skaars 15 km ’n volle 900 m. Die pad vou in op homself, soos in Switserland, en halfpad ondertoe sien jy die eerste bergkwaggas. Altyd vet, altyd wakker – hulle storm oor die gebreekte aarde asof dit ’n grasperk is.

Die fontein op Weenen is een van die mirakels van die Namib. ’n Syferwatertjie wag op die maan, en dan, met volmaan, stoot die water uit die aarde, en nét vir daardie nag stroom dit oor die gebakte sand. Ek het al hier geslaap met volmaan, wagtend op die bergkwaggas. Skielik, asof iemand ’n kraan oopgedraai het, stoot die water kwiksilwerblink uit die sypeling en begin uitstroom. As jy stil lê en die wind waai reg, kom die kwaggas teen die laatnag en, soos in ’n fabel, raak hulle snoet aan die spieël in die sand.

Onlangs eers het Calie en sy seun Nic besluit om Gamsberg aan die publiek oop te stel. Ek onthou die rondry en stap, die gesprekke om waar die kampe moes wees. Een van hulle, Hoogte, lê taamlik naby die plaashuis, aan die voetheuwels van die Gamsberg. Ek kan aan geen nag dink – of dagbreek – wat jou so beloon nie. In al my jare op Weenen is ek elke keer beloon met ’n nuwe penseel van Namibkleure. Dis die pienk en blou wat ek sal onthou, met
oorgange soos op die skutblaar van ’n outydse Peace-roos. Dan is daar Watervalkamp, toegevou tussen ligeenbedekte rotse. ’n Toe kamp, eenkant en versteek. Hier moet jy uitstap na die afgronde bo die waterval waar die dassies in die son dommel.

Ek hoop ek word vergewe as ek sê ek het redelik min geduld met mense wat goedsmoeds met hulle 4×4 rondry vir kwaadgeld. By Weenen maak ek die uitsondering. Indien jy ’n sedanmotor het, bly hier weg, want hierdie paaie
gaan jou breek. Die pad op teen Gamsberg is in die jare toet deur Calie gebou, toe die Max Planckinstituut hier ’n sterrewag opgerig het. Met vergunning kan Calie of Nic jou uitneem, maar doen dit op ’n leë maag en met kommerkrale byderhand. Die laaste 500 m klim die pad met ’n helling van een-op-een! Indien jy en jou voertuig dit oorleef, word jy beloon met seker die verruklikste verskiet in Namibië.

Die dierelewe van Gamsberg is beperk tot slegs die allertaaiste. Koedoes, natuurlik – gróót bulle met ’n swaar swart nek, en gemsbokke onder by die fontein.

Daarby is dit luiperdwêreld hierdie, meer as wat ek op enige ander plek al teëgekom het. Hoeveel keer het ons al veldwerk gaan doen en by ons terugkeer ’n tierspoor op ons s’n gekry – helder oordag! Waar anders sal jy ratel, ietermagog en maanhaarjakkals sien? En gifgoed? Swartmamba in die somer, geelslang, en my gunsteling, die horingsman. As dit by voëls kom, is daar die ikone van die Dorsland – veldpou in ’n reënjaar, witborsjakkalsvoël,
witkruisarend, rooiborslaksman, rooiborssuikerbekkie en natuurlik die ewige rooiwangparakiet.

Hoe vreemd en hoe wonderbaarlik dat ’n woestyn soveel kleur kan oplewer.

Die plante van die Gamsberg is ewe gestroop. Witgatbome, ’n swetterjoel akasias en dan die oorlewers, die vetplante. Teen die droogste hang kry jy die opstandingsplant, varingagtig en ingevou. Maar as dit reën, vou die blaartjies voor jou oë oop en word groen, wiergroen. So van groen gepraat: Op die werfvlakte is ’n hemelse opstanding van een
van ons skaarsste aalwyne, die groenaalwyn (Aloe viridiflora). Groen blomme? Ja, elke jaar blom hulle gifgroen tussen die klippe, swart soos klinkers.

Calie en Roos herinner my gedurig dat die plaas deesdae Weener heet. Maar vir my sal dit altyd Weenen bly. Die Weenen waar Calie se pa ’n klipskuiling by die fontein gebou het toe hy ’n “graslisensie” in 1926 uitgeneem het. Jy is vyf jaar gegun om te kyk of jy ’n bestaan uit die aarde kon maak, en daarna kon jy koop. Die Weenen waar die kwaggas snags vonke uit die klippe trap as hulle water toe stap. Die Weenen waar ek geleer het om te stap en om te kyk.

Kan daar ’n groter plesier wees as om ’n reis van die verbeelding te onderneem? Eers die besluit: Ek wil weggaan na ’n plek waar ek veilig met myself kan verkeer, waar daar liefde is en waar ek kan staar oor ’n landskap sonder mense. ’n Plek waar die ramdas teen dagbreek roep, waar jy teen die middaguur onder die sambreel van ’n witgatboom kan droom en waar selfs die donkerste nag ’n blou skadu van sterlig gooi.

Dis hoekom ek elke jaar die pad vat Weenen toe. Dis die enigste plek op aarde waar my drome en die landskap soomloos ineenvloei.