Brief uit die Richtersveld

Droeë plekke het my nog altyd betower.  En dít het my die eerste keer Richtersveld-toe gelok, in die lente van 1978.  Ek het my groen kewer-motortjie gepak met voorraad vir drie weke, en ‘n vriendin en my jaghond Sakkie is ook saam.  Doerdie tyd was daar bykans geen inligting oor die streek nie, en ek moes staatmaak op landmeterskaarte en hoorsê.  Ek het besluit op ‘n outydse landstog, en die Oranje-rivier benader uit die sandveld en westelike Namaqualand.  Eintlik het my kaarte die pad voorgesê want, hoe kan mens ‘n nuwe landskap verken en nie plekke soos Papendorp, Koeroebees, Soebatsfontein en die Spektakelpas aanry nie.

Ons het die Richtersveld binnegery van Vioolsdrif se kant want ek stel intens belang in oorgange binne landskappe – ekotone, daardie interessante wêrelde tussen biome.  Hier staan diere en plante wydsbeen oor lewensnisse heen, en waar dít gebeur, is biodiversiteit op sy volste.  Mens ry rivier-af, en dan skielik draai die pad suid by Modderdrif – jy laat die ruigtes van die rivier agter en binne ‘n honderd meter is jy op ‘n grintplein só bar en leweloos, dat dit op die planeet Mars kon wees.  Dit was laatmiddag toe ons kamp opslaan, en ek onthou die kleure van die strata in die rotse, die kwartsiete soos vet in ‘n repie spek – presies; die tekstuur van die rooi grond – presies, die gevoel van afwagting op ‘n nuwe landskap – presies.

Drie weke lank het ons buite geslaap, in die koelte van bakkranse, grondbrood gebak, en in krippe gewas.  En hoe gou betrek die ritme van ‘n eenvoudige bestaan jou nie?  Na ‘n week het ons knap na sononder gaan slaap, en met eerste lig opgestaan, soos dit hoort.  Naggeluide het het ons nie gesteur nie, maar eerder ons slaap ingekleur met interludes van verwondering.  Hoog teen ‘n gladde krans het ‘n penveer van ‘n dwerg-arend my na ‘n bossie gelok, en toe ek my hand uitsteek, het ‘n horingsman tussen die takkies geblaas.  Die terugroep van die permutasie van indrukke, warm klip onder my hand, die beenwit van die veer, en die hoë sis van die slang, laat my vel tot vandag kriewel.

En nou is ek na byna dertig jaar terug in die Richtersveld, diékeer om programme vir Groen te maak.  En net soos met ‘n vervloeë vriendskap, het ek gewonder oor die herontmoeting, want mens onthou selektief, en die loom van dae sonder inhoud word gou vergeet.  Maar, natuurlik, was die ou gevoel van oorweldiging opnuut daar want die klippe en rotse en berge van die Richtersveld is ewigdurend.  En ek bedoel natuurlik, want dís die dilemma van menswees – ons meet prosesse in die natuur aan ons eie kortstondige bestaan.

Maar met die besoek het iets in my verander.  Ek het ouer geword, en met die ouderdom het ‘n sagtheid ingetree.  Deesdae kyk ek anders na landskappe en voorwerpe want my oë sien deur lae van ondervinding.  En dit is goed so, want by die dag word lewe, in enige vorm, al hoe meer kosbaar.  In ‘n lappie kwartsiet-klippies, vang my oog ‘n geringe beweging.  Ek staar verbete na die beweging maar sien geen teken van lewe nie.  Toe ek my hand uitsteek na die klippie, staan dit op en stap stadig weg.  Ek vang hom, die klipspringkaan, en gaan sit op ‘n warm rots.  My asem is weggeslaan oor die klein wonderwork in my palm, en eers na ‘n tydjie kry ek my asem terug en roep die kamera nader.

Soos dertig jaar gelede verower die Richtersveld my hart opnuut.  Hierdie landskap is kláár abstrak en wil na gekyk word, oor en oor.  Van al ons dor plekke, is hierdie my gunsteling.  Hoe vang mens ‘n berwoestyn in woorde vas?

Richtersveld – Bergskap

Hier is suiwer wiskundig gedink, in klip
van elke vorm en sort; die begrip
woestyn word uitgeklaar, soos op ‘n tekenbord
en voor jou oë sien jy berge wórd
-Hennie Aucamp