Ander Stemme

In die middel van my studies aan die Universitiet van Cambridge het ek bitter siek geword.  Só siek dat ek vir vier dae in my bed moes lê.  Dit was in die hart van die winter; ek onthou die vretende koue, die ysreën, en die wind, skreeuend deur die kaal bleek takke van die berkeboom buite my venster.  Op die derde dag, net voor my koors gebreek het, het ek dié middag gedagteloos na die wiegende takke lê en kyk.  En skielik, in ‘n flits soos wanneer jy onverwags in die son kyk, of soos weerlig teen ‘n donker wolk, was ek vir ‘n oomblik vry.  Ek was in die oomblik, by my liggaam, maar ook by alles daarbuite.  Dit was ‘n gestelike vryheid soos ek nog nooit vantevore beleef het nie.  En vandag nog soek ek om dit net weer éénmaal weer te beleef.

Maar onlangs het iets soortgelyk met twee van my dierbaarste vriende gebeur.  My vriend Rob, wie my alles geleer het voëls, en van vriendskap, het op ‘n verlate heuwel in die Kleinkaroo gesit, vol in die son.  En toe, eensklaps, het dieselfde gevoel hom oorspoel.  Net vir daardie oomblik was hy deel van alles by, en om hom.  Hy was huiwerig om my dit te vertel, maar ek het verstaan.  En ook my ou vriend Johnny, wat op ‘n dag net eenvoudig nie meer ‘n slak kon doodtrap nie.  Hy gooi hulle maar oor die muur na sy buurman se tuin.  En dít verstaan ek ook.  Want, soos ek ouer word, raak die wêreld van voelende wesens al hoe meer belangrik.  Gaan lees maar; “die lelies van die veld”, tegnieke in transendentale meditasie, en die orale geskiedenis van mense van die veld – almal dwing ons terug na die nie-menslike wêreld.

David Abram, ekolooog, filosoof en toorkunstenaar se meesterlike boek, The spell of the sensuous, is naas Aldo Leopold se A sand county Almanac Rachel Carson se Silent Spring, die mees treffende boeke oor die omgewing, en oor die mens, wat ek ooit gelees het.  Abram sê: “Om onsself af te sny van hierdie ander stemme, om voort te gaan deur ons lewensstyl, hierdie ander gevoelighede te verdoem tot die niksheid van uitsterwing, is om ons sintuie te beroof van hul integriteit en om ons verstand te beroof van sy samehang.  Ons is menslik slegs in kontak, en gemoedelikhied, met wat nie menslik is nie”.

Die Boeddha leer ons dat, om ‘n bodhissatva te word, een wat onbegrensde barmhartigheid en wysheid het, daar ses volmaakthede is wat ons moet bemeester: vrygewigheid, etika, geduld, inspanning, konsentrasie en wysheid.  Sou dit nie dalk ‘n heilsame verskil kan maak aan ons gekneusde wêreld as ons bodhissatvas van die omgewing kan begeester, aanspoor en oplei nie?

Die dissipline van omgewingsetiek is ‘n kragtige nuwe beweging binne die moderne filosofie wat die etiese waarde van die natuurlike wêreld artikuleer.  Daar is ‘n paar beginsels van bewaringsekologie wat belangrik is omdat dit die rationale voorsien wat alle spesies beskerm, ongeag van hul skaarshied of ekonomiese waarde.  Gedagtes soos dat elke spesie ‘n reg het om te bestaan, dat die mens ‘n verantwoordelikheid het om as rentmeesters van die aarde op te tree, dat ons ‘n verantwoordelikheid het teenoor toekomstige geslagte, dat die natuur geestelike en estetise waardes het wat ekonomiese waardes transendeer, en, dat respek vir menslike lewe en ‘n besorgdheid vir menslike belangstellings versoenbaar is met ‘n respek vir biologiese diversiteit.

Ons soek verniet na die hemel.  Die hemel is hier, by ons.

Soos die krieke se sagte herfs-gegons
vir ons is
so is ons vir die bome
soos hulle is vir die klippe en die heuwels
Gary Snyders