Álles is heilig…

“As spesie, lyk dit my of ons die planeet op ‘n skisofrene manier behandel: gelyktydig as globale speelpark en rottingsput – ons hoop dat die ruimtelike skeiding sal voortduur, terwyl ons alles in ons vermoeë doen om die mengsel te homogeniseer.”
Professor Steven Chown: Sentrum vir Indringerbiologie, Universiteit Stellenbosch

Ek en Maria Inéz Miranda het aan die rand van die groep bosbouers gestaan, net buite die dorpie Lanco, so sestig kilometer suid van Temucho, in Chile.  Teen die oostelike horizon, wydsbeen oor die grens met Argentinië kon ons twee sneeubedekte vulkane sien, óm ons die beroemde Notofagus-woude van Patagonië.  Sterk jong Mapuche Indiane was besig om ‘n draagbare woudsaag te demonstreer – saagsels, rook en geraas – laggend, hul lang hare blink en steil, hul velle die kleur van foelie.

My taak was, om met behulp van Maria, met gemeenskappe te praat oor die impakte van beide plantasiebosbou en die ontginning van edel houtsoorte uit die voorvaderlike woude van die Mapuche.  Na twee weke op reis was dit die eerste keer wat ons met die landelike Mapuche te doene gekry het en boonop was hier oumense.  Eenkant, deftig uitgevat vir die vername besoekers, het ‘n ou, ou man gestaan.  Klein van postuur, verslete koordfluweelbaadjie, netjiese hoedjie.  Maria en ek het gaan groet, en eers oor dit en dat gepraat, en toe versigtig verneem of hy bereid sou wees om oor die geestelike waarde van sy omgewing te praat.  Hy het sy kop geskud: “Senor, vandat die houtkappers gekom het, is ek verlore.  My gedagte-wêreld is verbrokkel, die oer-bome is weg, die strome droog op”.  “Hoe wyd lê jou wêreld Senor Miguel – waar vind jy troos – wat van die klippe, die grond?” vra ek.  Sy gesig het oopgemaak, sy oë het versag en hy het na my gekyk soos na ‘n geliefde, want ek het uiteindelik die regte vraag gevra.  “Die klippe en die grond is heilig Senor – álles is heilig…”

Ons kan letterlik enigiets met die aarde aanvang, en sy, en haar dun lagie lewe aan die oppervlakte sal aanhou bestaan.  ‘n Globale kernoorlog, die algehele smelt van al die ys by die pole, deurtrekkende besoedeling – ten spyte van alles sal lewe aanhou, maar dit sal nie meer herkenbare lewe wees nie: ‘n nuwe suite wesens sal regeer.  Die aarde se biodiversiteit (“die rykdom aan lewe op aarde, die miljoene plante, diere en mikro-organismes, hul gene en die komplekse ekosisteme wat hul help vleg in ‘n lewende gemeenskap” – WWF) soos ons dit vandag ken, sal vir ewig weg wees.  Oor slegs driehonderd jaar het een dier, die mens, dit reggekry om die aarde so seer te maak dat genesing en herstel byna nie meer moontlik is nie.

Ons planeet staan voor sy eie kristalnacht, ‘n finale stel misbruike, waarna ons die ekologiese skade nie meer sal kan herstel nie, en ‘n nuwe stel reëls sal geld vir menslike oorlewing.

Suksessie (en evolusie) is die enjin van lewe op aarde.  Los gerus ‘n bedding in jou tuin – eers kom die onkruid, dan meerjarige plante, ‘n insek en dalk ‘n diertjie – los dit lank genoeg, en ‘n eilandjie van lewe sal in die hart van die voorstad ontwikkel.  Maar, skoffel hom elke week, spuit hom met elke gifstof in jou kas, en kort-voor-lank skep jy ‘n mini-woestyn, waar niks wil lewe nie.  Só ook werk dit met die natuur – sy het ‘n magtige kapasitiet vir misbruik, tot op ‘n punt, en slaan dan vas in ‘n “staat”.  Na dese, al hef jy alle misbruike op, sal suksessie nie meer plaasvind nie.  Daar is natuurkundiges wat vermoed dat die biosfeer bitter na aan hiedie punt van “vasslaan” is.

Bekyk mens hierdie misbruike, troon ‘n paar uit; ‘n soort litanie van planitêre doodsondes.  Heel bo, habitatsvernietiging en fragmentasie, dan klimaatsverandering, dan uitsterwing, dan besoedeling, dan biologiese indringing – ag Here, dit klink só bekend.  Want in elke publikasie en dagblad wat sy sosiale sout werk is, vind jy ‘n omgewingsrubriek.  En dis ‘n nuwe ding, dié besorgdheid.  Voor 1950 het mens nooit van omgewings-verslaggewing gehoor nie en die rede daarvoor is eintlik eenvoudig.  Eers met die publikasie van Aldo Leopoldt se seminale A sand county alamanac in 1948 het ons vir die eerste keer die stem van ‘n omgewings-praktisyn gehoor.  Leopold was die eerste wetenskaplike wat besef het dat natuurbewaring nie ‘n eksakte wetenskap is nie, maar eerder ‘n multi-dissiplinêre bestuurstelsel, en bowenal te make het met mense.  En tot vandag word hierdie eenvoudige wysheid nie verstaan nie – spesialiste dink dat hulle probleme eensydig kan oplos deur die toepassing van hul vakkundigheid en hul wil.

Maar daar is meer sinistere redes waarom al die kennis en al die ooplegging oor ons gekneusde aarde byna geen effek op mense het nie.  Enersyds help die wêreld se kennis nie ‘n man wat elke dag om oorlewing moet spook nie – soos dit met 95% van ontwikkeklende lande se bevolking gaan nie.  Maar nog erger, die 5% wat kán lees, wat kán verstaan, lees nie en luister nie.  Ek wonder somtyds of dit nie te make het met ‘n opsetlike ontwyking van ongemaklike kwessies?  Net soos VIGS ‘n abstraksie is, tot ‘n geliefde daaraan sterf; kanker slegs ‘n metafoor is tot jy dit opdoen en klimaatsverandering bloot ‘n tegniese term is tot die weer jou jaar na jaar doodwurg.

Die wetenskap weet reeds dekades lank dat alle elemente van die biosfeer vervleg is, dat indien jy selfs subtiel aan die “web” torring, dinge kan skeefloop, somtyds rampspoedig soos wanneer jy sleutel- en hoeksteenspesies beïnvloed.  Hierdie individieë vervul rolle wat ‘n menigde ander spesies in ‘n ekosisteem affekteer en wanneer die sleutelspesies afneem of verdwyn, kan die res neerklater, vir ewig.  Ergste van alles is dat ons steeds nuwe spesies op ons gefragmenteerde aarde ontdek, en dit beteken verder dat daar uitsterwings mag plaasvind van wesens sonder name – wesens wat nog deur geen mens gesien is nie.

Wat is nuut?

Die ou natuurbewaring van die 1970s en 1980s het nou opsygestaan vir ‘n nuwe dissipline – bewaringsekologie en bewaringsbiologie.  Dis ‘n nuwe benadering tot omgewingsbestuur, en het, as uitgang, drie doele:
-om die diversiteit van die lewende wêreld te bestudeer
-om die uitwerking van menslike aktiviteite op spesies, gemeenskappe en ekositeme te verstaan en,
-om praktiese, interdissiplinêre benaderings vir beskerming en herstel te ontwikkel

Bowenal is dit krisis-bestuur, want ons moet daagliks besluite neem oor bewaringsprobleme, maar met beperkte inligting en onder uiterse tyd-druk.

Sou mens dan aanvaar dat ons die aarde se malaise kan peil, dwing dit natuurlik die vrae af: Is daar iets wat jy, as gewone landsburger, aan haar saligheid kan doen? en, sal dit my, en die aarde help om oornag “groen” te word?  Die kort antwoord is uiteraard nee!  Maar, gelukkig is daar ook ‘n lang antwoord, en dit gaan so:

Die maklikste manier om die mens se letsels op die aarde te bepaal, is die sogenaamde “ekologiese voetspoor”; eenvoudig gestel, hoeveel produktiewe hektaar aarde het ‘n landsburger nodig on net te bestaan (sien bronne).  Skielik word dit duidellik dat die agtergeblewenes, die eenvoudiges, die derdewêreldse burgers eintlik die volhoubares is – hulle leef ruim binne die “voetspoor”, maar ons, die gesofistikeerde, slim en denkende burgers, leef vêr bo ons ekologiese vuurmaakplek.  En, heel bo-aan die besoedelaarslys staan Amerika, Duitsland, Engeland en Japan.  Die westerse lande wat goed vaar is Australië, Ysland, Finland en Nieu Seeland en byna al die ontwikkelende lande, veral die in Afrika.  Wat doen “hulle” wat reg is, en wat doen “ons” wat verkeerd is?

“Hulle” eet eenvoudige voedsel met hoë vesel en geen preserveermidels nie, gebruik geen verpakkings nie, trap hoofsaaklik fiets, bou eenvoudige wonings en met natuurlike stowwe, leef in landelike gebiede, is te arm om kunsmis en gif te bekostig, gebruik tegnologie onveranerd oor eeue heen…

“Ons” eet hoogs verfynde voedsel propvol preserveermiddels, gebruik ondenkbaar baie verpakkings, ry met oordadige en vraatsige voertuie, bou elaborate strukture van energie-duur stowwe, lewe hoofsaaklik in stede, besaai ons omgewing met giwwe en ander landbouchemikalië, gebruik spits-tegnologie…….  En, beide van ons sit vasgevang in die wêrelde wat ons vir onsself geskep het – die een het ‘n organies gedrewe ontwikkeling, die ander se ontwikkeling word bepaal deur westerse idees van sindelikheid.

Aan “hulle” saligheid kan ons min doen, en behoort ook nie, omdat ons mateloos baieby “hulle” kan leer.  Landelike en sogenaamd primitiewe gemeenskappe is ons skakels met die grond en met die oertyd: voor hul uitsterf moet ons  hul kennis en wyshede probeer dokumenteer en bewaar.  Daagliks word daar kragtige nuwe mediese midels “ontdek” wat reeds millennia aan “hulle’ bekend is; daagliks ontdek ons tegnieke in meditasie, kortpaaie na persoonlike saligheid en mantras wat eintlik ou-nuus is.

Aan die “ons” kan ons heelwat doen, hoofsaaklik omdat ons ingeligde keuses kan uitoefen.  En seker die belangrikste keuse wat ons in bykans enige transaksie kan maak is die kwessie van volhoubaarheid.  Moet ek vis eet as ek weet dat visbevolkings wêreldwyd aan’t ineenstort is?  Wanneer ek papier, timmer- en brandhout koop, kom dit uit volhoubare bronne soos byvoorbeeld deur die Forest Stewardship Council (FSC) gesertifiseer?  (Suid Afrika het ‘n trotse geskiedenis met FSC waar bosbou-reuse soos SAPPI en Mondi beide as volhoubaar gesertifiseer is.)  Die hoenderboudjie op my bord: was die stomme dier in batteryvoël of kon hy darem skrop?

‘n Keuse wat sekerlik by die dag meer getoets gaan word is dié van organiese teenoor kommersieële produkte.  Kyk mens deesdae na supermarket in Engeland en die vasteland, kom jy agter dat organiese produkte meer en meer as gesondheids-, etiese- en finansieële alternatiewe aangebied word.  Ek onthou maar te goed die dae toe die organiese en biodinamiese produsent en koper soos seer duime uitgetroon het.  Vaal, dun mense met ongewaste hare, uitgerekte truie en gesondheids-skoene en muiserige kindertjies wat altyd snotneuse gehad het.  Hulle lyk nog so deesdae, maar daar is meer van hulle, en, heelwat nuwe bekeerdes het bygekom.

En, maak dit ekonomiese sin om hierdie produkte te koop?  Nee, natuurlik nie, want om “groen” te boer is tydrowend, dis intensief en dis moeisaam.  Standaard kritiek teen organiese boerdery is ook dat sulke eenhede bedryf word in ‘n “see” van klassieke boerdery, en dat dit dus konstant gekontamineer word met skadelike chemikalieë deur die wind en water aangedra.  Ten spyte van die kritiek is daar toenemend ingeligde mense wat hierdie filosofie verkies en moeite sal doen om sulke produkte te bekom.  Dit het te make met respek vir die aarde, respek vir die produk en respek vir die praktisyn – en dís reg in my boek.

Die keuses wat groenes kan uitoefen, soos om organiese produkte te koop, outydse lap-doeke vir hul babas te gebruik, kompos te maak en weelderige ontwikkelings teen te staan, het eintlik maar min effek op die groot impakte op die biosfeer.  Om hier ‘n verskil te maak, moet ons radikaal dink en doen.  Om waarlik ‘n meetbare en permanente positiewe bybrae tot globale besoedeling te maak, is ons enigste oplossing om so vinnig moontlik, soveel moontlik kernkragopwekkers te bou.  Vergesog?  Nee!  Ek is oortuig daarvan dat ons ‘n paar Tsjernobil-uitbarstings per jaar kan absorbeer in teenstelling met die kruipende globale besoedeling afkomstig uit die verbranding van fossiel-olies.  As jy wil sien hoe besoedeling op ‘n kontinentale vlak lyk, gaan na Google Earth en kyk na Sjina.  Daar is dae waar die ganse sub-kontinent eenvoudig deur sop-bruin rook oortrek is.

Is daar hoop vir ons?  Kan ons die gety van verwoesting en kneusery stop?  Persoonlik dink ek dat ons die draagpunt van die lewe op aarde seergemaak het en dat herstel, of selfs net stabilisering nie meer moontlik is nie.  Maar, watter sort mens sou die aarde kon red van afwenteling na ekologiese eenvormigheid?  Hierdie denker (en denker sal dit moet wees) sal verstaan dat:

-elke spesie het ‘n reg om te bestaan en het ‘n intrinsieke waarde
-alle spesise is interafhanklik
-ons het ‘n verantwoordelikheid om as rentmeesters van die aarde op te tree
-ons het ‘n verpligting jeens toekomstige geslagte
-respek vir menslike lewe en besorgdheid vir menslike belange is versoenbaar    met besorgdheid vir biologiese diversiteit, en
-die natuur het geestelike en etiese waardes wat die ekonomiese waarde oortref

En, sodra jy dít verstaan, is jou pad oop na “Diep Ekologie”(DE), ‘n kragtige plan vir persoonlike, sosiale en politiese verandering.  Die sentrale uitgangspunt van DE is dat alle spesies opsigself waarde het, dat die mens geen reg het om hierdie rykdom in te kort nie, en dat daar ‘n verbintenis moet wees om persoonlike lewensstyl ten goede te verander.  Van alle benaderings is DE die mees versoenbaar met bewaringsbiologie.

Lees Marthinus Versveldt se Klip en klei weer – van die allermooiste prosa in Afrikaans lê in dié dun bundeltjie.  Dit sal jou leer hoe om kwepers te plant, jou deurlose plaastoilet só te plaas dat jy uitsig het en hoe om ‘n veldvuur te pak.  Maar, êrens in die boek lê daar ook ‘n sleutel tot ekologiese ontwaking.  Die geheim is om ‘n plek, ‘n rivier, boom, berg of enkel klip te leer liefhê. Dit maak nie saak waar die spesiale plek is nie, maar hier moet jy by jouself kan uitkom, deel word van die plek, en ‘n behoefte ontwikkel om dit te koester.  As jy eers hierdie persoonlike verbintenis met ‘n plek en met jouself, kan jy dit uitbrei na ander plekke, en ander lewensvorme.  Aldo Leopoldt het gesê: “Alle etiek berus by die enkel uitgangspunt dat die individu ‘n lid is van ‘n gemeenskap van interafhanklike lede

David Abram vertel in sy verbluffende boek “The spell of the sensuous: perception and language in a more-than human world”, die storie van die ongeletterde Rooi Indiaan stamhoof wat deur die Amerikaanse regering gedwing is om sy heilige grond af te teken aan ‘n mynmaatskappy.  Moeisaam het hulle verduidelik dat al wat hy moes doen om die transaksie te beklink, was net om ‘n merkie onderaan die dokument te maak.  Hy was reg om te teken, maar skielik het hy verward opgekyk:  “Het iemand die grond gevra?

Ja, álles is heilig.